Vye, granate, druiwe, perskes, eiervrug, murgpampoentjies, joghurt en kaas (van skaap- en bokmelk), kebabs, heuning, amandels…..
Ons eet héérlik….
Shwarma en falafel langs die pad tussen dorpe ….
die aller heerlikste tee gegeur met salie of kruisement in klein glasglasies en klein koppies sterk koffie in die huise van gasvrye mense…
borde kos wat die dorpsmense vir ons aandra…
braaivleis langs die pad in die Jordaanvallei…
vars gebakte taboon (‘n groot, plat, dun en heerlike brood)…
soms ontbyt saam met die plaaslike skaapherder (taboon en skaapkaas verhit oor ‘n vuurtjie in die veld, met tee en druiwe)…
en in ons huis maak ons lekker kos met die oorvloed van vars vrugte en groente (gisteraand selfs appeltert gehad).
Middagete vir Uli en my van die bure in Yanoun (die ander pas Qusra op)
Ons word dikwels ingenooi vir tee of koffie wanneer ons gaan kaas, joghurt, heuning en eiers koop. Ons mag nie taboon koop nie – dis altyd ‘n geskenk.
Terwyl Linda en ek stap, kom ‘n setlaar in ‘n voertuig verbygespoed, ons het gedink hy gaan ons uit die aarde ry. Ek kon gelukkig betyds ‘n duidelike foto neem van die registrasienommer.
Nabi Nun: Waar Josua se vader begrawe is. Moslems beskou Nun ook as ‘n profeet.
Dit was ‘n bietjie grillerig binne (daar’s ‘n diep gat binne) so ons is vinnig weer uit…
Ons eet min vleis, maar het al gebraai in die Jordaanvallei se hitte, tussen niks en nêrens. Heerlik.

Ek's mal oor die plaaslike suurlemoen- en mintdrankie (hier by die ete in Jerusalem na ons oorhandigingseremonie)
Ons word dikwels kos aangebied wanneer ons ons kontakte in die verskillende dorpe besoek. Soms sit ons almal plat op die grond, skoene uit, en soms almal rondom een tafel, maar ons eet altyd met ons hande uit dieselfde bakke. Ek hou daarvan.