Gallery

My (eertydse) mites oor Palestina en Israel

Die Jordaanvallei

Iemand het my ‘n paar vrae gevra…. wat my ’n soort “déja vu”-gevoel gegee het, omdat dit my eertydse persepsies raakvat.

My antwoorde is uiteraard nie volledig nie, maar ek probeer….

 

Mite 1.  Die “twee kante” van die saak (Israel/Palestina) weeg eweveel

Wat  EAPPI namens die Wêreldraad van Kerke geverifieerd waarneem en rapporteer aan die VN sedert 2002, is ‘n sistematiese en  ‘n sistemiese benadeling van die Palestyne.  Dit behels aanhoudende oortredings van menseregte en die internasionale humanitêre reg soos bepaal deur die Geneefse Konvensie, die Haagse Konvensie, VN resolusies en die Internasionale Geregshof.

Daar is vier breë temas van benadeling:

  • sluiting, kontrole oor, en beperkings op beweging (dus “checkpoints”, ompaaie (vir Palestyne) wat nie onderhou mag word nie, en pragtige paaie (vir Israeli’s);
  • huis- en ander slopings en die onteiening van landbougrond;
  • die effek van die Muur en die gepaardgaande regime; en
  • Israeli setlaargeweld en teistering (alle Israeli setlaars in die Wes-Oewer woon onwettig daar).

Daar is geweld deur ekstremiste aan beide kante, maar dis belangrik om te besef dat die Paletyne nie sistematiese en sistemiese oortredings van menseregte pleeg nie, terwyl Israel dit wel doen ten opsigte van die Arabiere in Israel én t.o.v. die Palestyne in Ghaza en die Wes-Oewer (die besette Palestynse gebied).

 

Bethlehem, die Muur met onthoofde olyfbome

Mite 2. Palestyne is aggressief

Ekstremiste en geweldplegers aan albei kante teiken gewone burgers.  Ek verstom my egter dat die meeste van die Palestyne (Moslems sowel as Christene) vredesgesind is.  Hulle vra bloot (dringend) dat die internasionale wette op menseregte hier nagekom moet word.  Ek is tot in my siel geruk oor die smart en lyding van hierdie mense en hul reaksie daarop – hulle weerstand is om hul gesloopte waterpompe te herstel, om weer olyfbome te plant nadat dit uit die grond geruk is, om weer huise en moskees te bou nadat dit gesloop is, om vredesboodskappe in graffitti op die Muur te skryf, om aan te hou met lewe en te hoop dat dinge eendag sal verander.

Sou ek so gereageer het?

Hulle is diep gelowige mense – dié Moslems en die Christene.  En hulle hou aan hoop. En glo dat God se wil sal geskied. En dat daardie wil vrede en gelykheid behels. Ek/ons hoor hierdie boodskappe uit mense se monde wanneer ek by hulle sit terwyl hulle olyfbome ontwortel word, hulle grond onteien  word, hulle huise gesloop word, hulle in lang toue vanaf 2:00 staan om by hul werk te kom, wanneer vieslike dinge op hul moskees geverf word en mense geskiet (en gedood) word in aanvalle deur gewapende (onwettige) Israeli setlaars. Al hierdie dinge het ons reeds saam met hulle beleef.

 

Die son skyn oor almal, maar net party het munisipale dienste

Mite 3. Israel streef vrede na

Israel se boodskappe na buite is gebaseer op die mantras “peace” en “truth” gekombineer met vreesaanjaende boodskappe oor “Arab terrorists”.

So reageer Allan Wolman byvoorbeeld op ‘n artikel van my in die Sunday Independent:

Ms Momberg whist you might not sleep that well under the lights you describe I can assure you that thousand more Israeli families sleep even less well due to the necessity to be vigilant against terrorist attackers who slit the throats of their children at night!

(Taalfoute Mnr Wolman se eie)

Mnr Wolman substansieer of verifieer nie wat hy sê nie.  Hy val bloot dit wat ek en my kollegas waargeneem, gefotografeer en gedokumenteer het aan met die doel om dit te diskrediteer.

Lees sy brief hier:
http://mediateamisrael.wordpress.com/2011/10/05/allan-wolman-in-sunday-independent/

en my brief hier:

https://marthiemombergblog.wordpress.com/2011/10/03/west-bank-settlements-peace-or-piece-by-piece/

Na buite het Israel drie kernboodskappe:

  • We just want peace.
  • What we want is based on truth.
  • Our lives are threatened by those Arab terrorists.

Maar na binne verskerp die amptelike diskriminasie en benadeling van Palestyne en word menseregte-oortredings versnel.

Op dieselfde dag waarop Gilat Shalit vrygelaat is in 2011, lees ek in die koerante  Israeli Eerste Minister Netanyahu se aankondiging van ‘n taakgroep om onwettige buiteposte van setlaardorpe te “wettig”.  Volgens Israel is net enkele buiteposte op Palestynse grond onwettig (omdat dit nie Israeli-staatstoestemming het nie), maar volgens die internasionale gemeenskap en die Vierde Geneefse Konvensie (Art 49, par 6) is ALLE setlaardorpe en buiteposte in die besette Palestynse gebied onwettig. Netanyahu se hele toespraak op die 23e September was “peace, peace, truth, truth, truth”…  maar…. dan kondig hulle net daarna aan dat onwettige nedersettings (“settlements”) uitgebrei word – soos met die 1500 nuwe huise in Gilo by Bethlehem, maar ook in al die dorpe in die gebied waar ons werk. Dit gaan my verstand te bowe.

Watter soort vrede streef Israel na?

Sien ook:

Israel’s new settler build cuts off Bethlehem and Jerusalem: http://www.maannews.net/eng/ViewDetails.aspx?ID=429214

UN: Israel’s plan for new settler district ‘unacceptable’
http://www.maannews.net/eng/ViewDetails.aspx?ID=429312

Ekumeniese werkers: Jan Egil Berg (Noorweë), Emma Idestrand (Swede), Erik Charpentier (Swede)

Mite 4.  EAPPI werkers se blootstelling is eensydig

EAPPI werk saam met talle Israeliese vredesgroepe, soos:

  • Rabbis for Human Rights wat al  jarelank die Palestyne in Oktober help om hul (eie) olywe te oes en weerstand te bied teen ekstremistiese setlaars wat dit probeer verhoed.
  • Women in Black in Wes-Jerusalem wat elke Vrydag in stilte betoog om hul eie landsgenote te sensitiseer vir onregte in Palestina (hulle is benoem vir die Nobel-prys);
  • Machsom Watch – vrywilligers wat diens doen by kontrolepunte;
  • Breaking the Silence, oud IDF-soldate wat nou hul ervarings in die weermag deel met hul landgenote en die res van die wêreld en help met ons opleiding;
  • Yesh Deen wat humanitêre hulp verleen aan ontheemdes;
  • B’tselem wat videos maak van menseregte-oortredings in Palestina en dit versprei;
  • New Profile wat jong Israeli’s wat nie weermag toe wil gaan nie, bystaan;
  • Peace now wat die onwettige Israeliese nedersettings en die voortgesette uitbreiding daarvan probeer stop; en
  • The Other Voice wat die gesigloosheid van die mense in Gaza probeer oorkom.

Ons was ook by die Holocaust museum in Jerusalem tydens ons opleiding en het daar weer onder die indruk van die ontsetting van WWOII gekom.  Die punt is, EAPPI werk met ALMAL wat vrede, menseregte en die handhawing van die internasionale menseregtewette voorstaan. EAPPI is gegrond in samewerking met beide partye. Ons keur alle vorme van geweld, aan albei kante af.

Op ons afdae (12 dae in die drie maande, onthou ekumeniese begeleiers werk 24/7) is ons aangemoedig om na Israel te reis en as groep het ons met Bob Lang, ‘n Israeli setlaar (oorspronklik van die VSA) gesels.

EAPPI is die enigste internasionale organisasie wat binne kontrolepunte mag werk (Machsom Watch mag nie). Ek het in Bethlehem soggens om 3:00 opgestaan om diens te doen by Checkpoint 300.  Daar onderhandel ons met die soldate om die hekke oop te hou vir mense wat moet gaan werk en by hospitale uitkom, en wanneer nodig, skakel ons die Humanitarian Hotline om hulp – ‘n afdeling van die Israeliese weermag.

Oktober is olyfoestyd

Mite 5: Die bakleiery gaan al 3000 jaar lank aan en sal altyd voortduur.

Vir eeue het Christene, Moslems en Jode in vrede hier geleef – tot en met 1947 met die aankoms van Europese Jode.  Dis belangrik om te verstaan dat die konflik nie heers tussen ALLE Christene, Moslems en Jode nie.  Baie van die Jode, hier en in die res van die wêreld, kies om nie met Sionisme te vereenselwig nie  en ook nie met die moderne staat Israel nie.

Gedurende die opkoms van Naziisme het die meeste Jode geargumenteer dat hulle in Europa moes bly en hul beywer vir gelykheid in hul eie lande.  Die Sioniste-beweging (‘n subgroep binne Judaïsme) daarenteen, het geargumenteer dat hulle ‘n eksklusiewe land vir hulself – net vir hulself – benodig.  Dis ongelukkig presies hierdie soort denke wat lei tot die uitsluiting van andere, en soms neem die uitsluiting gruwelike vorme aan soos gebeur het onder Hitler.

Die Sioniste het Palestina gekies – ‘n land wat reeds bewoon was.  Ek het lank gemeen Palestina was “a land without a people for a people without a land”. Maar dis nie so nie.  Hier was (en is) ‘n wonderlike beskawing en die Jode wat hierheen gevlug het, het geen genetiese bande met die land nie, hulle deel bloot die geloof van sommige (die minderheid) van die mense wat hier gewoon het tot en met 1948.

Sionisme was dus een van die eerste redes wat aanleiding gegee het tot die konflik. ‘n Verdere (bisarre) komplikasie was dat die Britte na die eerste WO onafhanklikheid aan beide die Palestyne en die Jode beloof het op dieselfde stuk grond. Klink die inmenging van Europa in ‘n ander land bekend? En onthou, die VSA en Brittanje het streng beperkings geplaas op die Jode wat na WOII na hul lande mog emigreer.

Na WOII het die VN die land verdeel en die meeste grond (57%) het gegaan aan die minste mense (die Jode) – dalk weens die verskrikking van die Holocaust? Wat dan van die Palestyne?  Het hulle die Holocaust veroorsaak? Die Palestyne en Arabiese lande het hulle hierteen verset en die Weste het die VN se besluit om grond van die Palestyne af te neem en vir die Jode te gee, verdedig. Die Palestyne noem 1948 se besluit en die verdere geweld deur Europese Jode die “Nakba” – die Katastrofe.  Israeliese burgers en soldate het heel dorpe (520) uit hul huise gedryf, vermoor en die meeste van die Palestyne het alles agtergelaat en vir hul lewens gevlug.  Hierdie vlugtelinge het vandag nog kaart, transport en sleutels van hul eiendom, maar daardie eiendom is alles vernietig of beset deur Israeli’s en die Palestyne woon tot vandag toe in vlugtelingskampe.

Sedertdien het die Israelis net meer en meer grond van die Palestyne afgeneem en onwettig beset. Tans het die Palestyne net sowat 22% van wat hulle in 1948 gekry het, oor.  Hiervan beset Israel ‘n verdere 60%  volledig, en ander dele gedeeltelik.

Die meeste Palestyne (7 miljoen, dws 70% van alle Palestyne wêreldwyd) is ontheem – sommige meer as eenmaal – eers in 1948 en toe weer in 1967….  en sommige vandag nogmaals wanneer hul huise gesloop word of hul grond onwettig ontheem word.

Sommige Palestyne is so moeg vir die konflik dat hulle vandag bereid is om net 22% in vrede te kry – dis in wese waaroor die voorlegging op 23 September 2011 gehandel het. Ander reken weer dat daar net een staat moet wees waar almal in vrede leef (soos in Suid-Afrika).

Die bekroonde film Occupation 101 is ook verhelderend.

Kyk die hele film gratis hier.

… of gaan leen ‘n kopie by die NGK Stellenbosch Welgelegen se kerkkantoor.

6 thoughts on “My (eertydse) mites oor Palestina en Israel

  1. Theunis says:

    Hallo liewe Marthie

    Ag dis sommer net goed om al jou inligting te lees! Goed geskryf en dankie daarvoor! Ek beleef die ‘groei’ in jou. Wonderlik! Ek bid vir jou en mag die week vir jou goed wees en mag jy weet dat jy vasgehou word!
    Shalom
    Theunis

    Like

  2. I think that your facts are wrong. Palestine was promised to the Jews. In the end Jordan was given to the Arabs and Israel to the Jews.
    So the majority went to the Arabs. At that time there were no Palestinians.
    Palestinians came only after that. You cannot find the word Palestinian before it was created in the 60ties and 70 ties.
    Name me one Palestinian musician, sportsman, or Nobel price winner before or after Arafat….

    Like

    • Oh my goodness Carl….no it’s you who need to check your facts on the basic history – try for instance wikipedia, information by the UN, or rulings by international legal bodies. There are also many, many books, many of them written by Jews. See also my blog page on books. Palestine was a British protectorate (called Palestine) just before it was divided by the UN, and before that, they were ruled by a number of others. Palestinians have a rich cultural, intellectual and trade history. Jordan was never given to Arabs (but Zionists claim that all Arabs should live there). The perceptions/myths you mention here are those of a pro-Zionist lobby, in other words a fundamentalist group that promotes one people over and above another. In South Africa we call this apartheid, and in fact international law also describes what happens in Palestine-Israel as apartheid.

      Like

  3. PAUL HENDLER says:

    Dear Marthie, it is interesting to see Carl Muller’s blindness but not surprising. The willfully blind do not want to see but we must keep on telling the true story with the facts to back us up. Your piece on “Mites van Palesteine” does just that. This requires lots of energy and strength which I would like to wish for you and know that you are not alone in this but that there is a growing movement of people internationally. Peace and solidarity to you, Paul Hendler

    Like

  4. Marnus Coetzee says:

    It’s all good and well to have this issue abroad about the Palestines, but why don’t you write and publish the same way about the farm murders and the discrimination against the Afrikaner People? Have you ever been briefed about the savage and brutal nature of farm murders? I do think not. Go and speak to the families of murdered farmers and get wise. Or do you hate and despise the Afrikaners too much to do that?

    The Palestines are not innocent in their whole scenario. They are not sweet little angels whose wings gave been clipped unfairly. They have as much guilt in their situation as Israel. Don’t be naive, madam. The Palestines have a long history of violence and terrorism. Also, they are not the only peoples of tribe to suffer in the world. You can go virtually anywhere in the third world and find people suffering. Palestines are not more special than any other similar peoples around the world. I do have suspicion that you are more anti-Jewish and anti-Israel, than pro-Palestinian.

    Like

Leave a comment