Oktobermaand is olyfoestyd vir Palestyne – tradisioneel ‘n vrolike kulturele, sosiale en ekonomiese bedrywigheid. Almal werk saam en hou tydens middagete heerlik piekniek in die koelte van die bome.
In Yanoun het ek iets hiervan beleef, maar dinge was nie algeheel idillies en sorgvry nie. Maar tog, as almal saam werk, vuil word, sing, en eet, vergeet ‘n mens amper van die besetting.
Boere mag dikwels nie by hul boorde kom om te oes nie, en indien wel, moet hulle beskerm word. Beskermingsbegeleiding is een van die sleuteltake van ekumeniese werkers in die WRK se EAPPI-program. (Terloops, Linda wat links sit, en Ueli wat nie op die foto is nie, het beide tydens die oes van die wankelrige houtlere afgeval – Ueli met taamlik rampspoedige gevolge vir sy rug, en albei met ‘n groot geterg van die res van ons.)
Die inwoners van ons dorp (en elders) het weke in spanning gewag om te hoor of hulle permitte sou kry om by hul (eie) boorde uit te kom – en uiteindelik mag hulle nie by al hul (weer eens eie, wettige) boorde gekom het nie. Tydens die oes was daar weermagvoertuie wat op en af gejaag het en ons was heeltyd op die uitkyk vir setlaars wat wou amok maak.
Oktober 2011:
Ons begin soggens net na sonop. My hande is gaar en elke stukkie van myself en my klere is stofbedek, maar dis vreeslik lekker.
Middagete is vars taboonbrood met olyfolie, za’tar, gebakte eiervrug en soetrissies, volryp tamaties, uie, skaap- en bokmelkkaas en piekels, en dan tee met salie – absoluut heerlik!
Hoewel dit goed gaan in Yanoun (buiten vir die drie groepe onwettige, gewapende Israeliese setlaars wat deur die dorp en die landerye gestap het), gaan dit moeiliker in die ander dorpe waar ons werk.
Dit neem jare voordat ‘n olyfboom begin vrugte dra. In die eerste jaar het so ‘n boom daaglikse aandag nodig en later weekliks of maandeliks. Teen die tyd dat die bome groot is, word hulle amper soos “kinders” beskou. Dis hartverskeurend om dan te sien hoe die bome doelbewus beskadig en vernietig word deur setlaars.
Die olyfolie-industrie beslaan 14% van Palestyne se landbou-inkomste en verskaf inkomste aan sowat 80 000 gesinne.
Ongeveer die helfte van die besette Palestynse gebied (48%) is beplant met olyfbome waarvan die meeste in die Wesoewer– omtrent orals waar ‘n mens kyk.
Elke stukkie word gebruik – selfs die afvalmateriaal wat oorbly nadat die olywe gepers is. Hierdie korrelrige afvalmateriaal word weer huis toe geneem en daar gedroog vir gebruik in die winter om vuur mee te maak (die olierigheid laat ‘n klein vuurtjie sommer goed ontvlam):
Die ontwrigting van die olyf-industrie raak die hart van die Palestyne. Juis daarom word dit gereeld geteister deur Israeli setlaars. Organisasies soos Rabbis for Human Rights (www.rhr.org.il) en Joint Advocacy Initiative (www.jai-pal.org) doen geweldig baie deur vrywilligers te reël wat in die oestyd saampluk met die mans, vrouens en kinders en ‘n teenwoordigheid handhaaf.
Maar deur die loop van die jaar moet die bome versorg word. Dit moet gesnoei en die grond moet omgeploeg en bemes word sodat die winterreën kan indring. As dit nie gebeur nie, is die oes klein en swak – soos ek laas jaar in Yanoun beleef het.
Israel maak dit so moeilik as moontlik vir boere:
- Daar is 73 Israeli “hekke” waarvan die meeste (52) heeljaar gesluit is sodat boere nie by hul boorde kan kom nie buiten tydens oestyd vir ‘n beperkte aantal ure wat meestal te min is om alles te oes.
- In 2011 is 42% van aansoeke om permitte vir toegang tot die boorde tydens die oestyd verwerp (39% in 2010).
- Tussen Januarie en middel Oktober 2012, het Israeli setlaars in die Wesoewer sowat 7 500 bome van Palestyne beskadig of vernietig (uitgetrek, verbrand, vergif, afgekap) (dis ongeveer 2000 minder as in dien ooreenstemmende periode in 2011).
- Volgens Yesh Din, ‘n Israeli vredesorganisasie wat Palestyne help, het net een van die 162 klagtes teen setlaaraanvalle op Palestynse bome gelei tot die aankla van ‘n beskuldigde.
- In Gaza is 7 300 dunums boorde al langs die grens met Israel platgevee deur Israeli militêre operasies.
Foto’s Oktober 2012: Olyfoes in Hebron: vrywilligers gearresteer deur die IDF
Ek hoop om binnekort my eie twee olyfbome te plant 🙂