Geagte Redakteur,
U berig ”Woolies wil nie sê wat die Moslem-boikot aan sy verkope doen” (DB, 01.10) noem nie dat ook Christene, nie-Sionistiese Jode en talle andere die vreedsame, wettige boikot teen Woolworths ondersteun nie. Dis deel van ‘n internasionale strategie soortgelyk aan dié een wat Suid-Afrikaanse apartheid help beëindig het.
Woolworths het handelsbande met Israel wat welbekend is vir menseregteskendings in die besette Palestynse gebied (Gaza, die Wes-Oewer en Oos-Jerusalem). Weerstand teen Israel behels nie ‘n protes teen Jode nie, maar teen ‘n beleid van grootskaalse menseregtevergrype.
Die veldtog van boikot, disinvestering en sanksies (BDS) teen Israel is die keuse van die meerderheid Palestynse burgerlikes (www.bdsmovement.net). So het die Gates Stigting onlangs al hul aandele in die G4S sekuriteitsmaatskappy verkoop, en plaaslik het Karstens Plase hul bande met die Israeliese uitvoerder Hadiklaim verbreek.
Woolworths sê hulle is ‘n etiese maatskappy. Tog voer hulle produkte soos pretsels, koeskoes, matzos, koljander en vrugte in van Israel. Woolworths sê hulle kom die wet na en hoef nie meer te doen nie. Wetgewing is egter net die basis van ‘n gemeenskap se moraliteit. Etiek begin waar die reg stop. As Woolworths regtig eties verantwoordbaar is, sal hulle gehoor gee aan die internasionale oproep om ekonomiese isolasie van Israel.
As Suid-Afrikaners hul identiteit as ‘n baken van hoop wil laat herleef, moet al die lae van ons samelewing met morele integriteit handel. Om handelsbande met Israel te handhaaf is net so onverantwoordelik soos om die Dalai Lama die land te weier.
Vriendelike groete,
Marthie Momberg3 Oktober 2014
Dankie Woolworths dat julle nie ingee op die irrasionele druk van BDS nie. Israel moet haarself verdedig teen die terroriste (en hulle ondersteuners) in Gaza.
Ons wag nog vir SA BDS se optogte / fondsinsameling / boikotte teen IS !
LikeLike
BDS is ‘n spesifieke oproep in die konteks van Israel-Palestina, dis nie ‘n sambreelorganisasie nie. Suid-Afrikaanse Moslems het hulle reeds sterk uitgespreek teen fundamentalisme in Islam en ISIS. Sien: https://marthiemombergblog.com/2014/08/25/south-african-muslims-reject-violence-in-the-name-of-islam/
Bowendien, dis onlogies om te redeneer dat ‘n mens jou nie oor een saak mag uitspreek sonder om oor alle sake praat nie. Ek wonder wie redeneer nou hier fundamentalisties….?
LikeLike