Op soek na die waarheid

Op die vyftigste dag van die uitmergelende 2014 konflik tussen Israel en Gaza het ‘n groepie van vyf kerklidmate na ‘n DVD, Roadmap to Apartheid gekyk. Dié lede van die Fontaineblue Gemeenskapskerk (lid van die NG Kerk) wou graag meer verstaan van die konflik tussen Palestina en Israel. Dit mag onbeduidend klink – dit was immers net vyf mense. Tog het ek geleer dat ‘n verskuiwing in persepsies juis so kan begin – met een of twee mense wat kritiese, eerlike vrae vra.

DSC_0105

So skryf Ds Johan Pieters, leraar van die gemeente, op Fontianeblue Gemeenskapskerk se webblad oor die rol van Afrikaans-sprekende witmense en die soeke na waarheid:

Soos dit met hierdie kontroversiёle sake gaan is daar soveel mense, soveel menings. FGK se styl met kontroversiёle sake (soos homoseksualiteit, die bestaan van die bose, Belhar, saam-woon en die huwelik) is om te erken dat daar verskillende standpunte is. Ons glo ons taak is om te probeer om mekaar te verstaan, en dalk so ‘n gemeenskaplike konsensus te ontwikkel. Gesprek oor Israel-Palestina is dus ook nodig.

Wat het ek so ver geleer deur na die DVD te kyk en daaroor met mede-lidmate te gesels?

Dit het algemeen geword om Israel se optrede “Apartheid” te noem. Blykbaar is Sen. John Kelly die persoon wat eerste keer die vergelyking getref het, maar dr. HF Verwoerd het al in die 60’er jare al oor Israel as ‘n Apartheidstaat gepraat. Die video gebruik ons Apartheidsgeskiedenis om die Israel-Palestina konflik, en die impak daarvan op mense, in perspektief te stel.

Die eerste saak is dat ons, veral Afrikaans-sprekende wit mense (jammer vir die etiketering), hierdie konflik moet probeer verstaan. Ek is oortuig dat ons nie net anders na ons eie geskiedenis gaan kyk nie – en daarmee bedoel ek nie dat ons onsself nou nog meer moet treiter en aan self-veroordeling moet deelneem nie. Ek dink ‘n poging om die konflik te verstaan kan ons selfs help met ‘n stuk genesing en perspektief oor wat met ons gebeur het, insig in wat ons blindekolle was. Die vrug kan wees dat ons met groter deernis na albei partye se posisie kan kyk.

Die tweede saak wat my bybly, is die vraag na die waarheid. Hoe kies ek “kant” in ‘n situasie waar daar soveel teenstrydige perspektief en aansprake op feite is? Feite wat ek baie moeilik kan kontroleer. Vir my lyk die antwoord dat ek ‘n geloofskeuse moet maak. So ‘n geloofskeuse het nie te doen met ek “glo” Israel, of ek “glo” Hamas is “reg” nie. Dit het te make met ‘n keuse wat versoenbaar is met ons Godsbegrip – wat natuurlik self ook nie ‘n eenvoudige saak is nie. Die geloofsuitspraak wat ek maak is: “Ek glo dat God ‘n God van lewe is”, daarom moet ek wat die saak betref keuses maak wat “lewe” sal bevorder. Met lewe bedoel ek nie maar net fisies lewe nie, maar ‘n lewe wat met waardigheid geleef kan word, in gehoorsaamheid aan ‘n roeping, met betekenis en ideale geleef kan word – natuurlik sluit dit in dat daar ook toegang moet wees tot die middele om so ‘n lewe te kan leef.

Ek dink nie dat die konflik vir enige burger van Israel of Palestina ‘n moontlikheid van so ‘n lewe bied nie. Die konflik is ‘n konteks van dood vir albei groepe – net soos Apartheid ‘n konteks van dood was vir wit en swart in Suid-Afrika. Ek is wel oortuig dat (selfs al is die DVD net 50% akkuraat) die Palestyne in hierdie konflik die weerloses is, en dat God op ‘n “besondere manier” (as ek Belhar se formulering mag gebruik) aan die kant van die armes, swakkes en weerloses is. Die sterker een, die een met die mag in hierdie konflik is Israel. Hulle word deur God geroep om aan God se kant te wees, m.a.w. om saam met God by die Palestyne te staan.

Hierdie konflik is veel meer as net ‘n reaksie op “Hamas het drie Israeli tieners doodgemaak, en daarom het Israel gereageer.” (Terloops dit is nog ‘n ope vraag of dit regtig Hamas was wat die tieners doodgemaak het!) Dit is ‘n dekade-oue konflik oor saam-leef en saam-bestaan, dit is ‘n konflik oor aspirasies en vrese, oor vryheid en veiligheid, oor identiteit en mens-wees. Dit is dalk so eenvoudig soos: Hoe kyk ek na jou? Is jy ‘n mens of nie, iemand of ‘n niemand?

DSC_0229

Die foto’s in hierdie stuk is in Oktober 2011 geneem in die Wes-Oewer, Palestina. Die fotograaf is Jan-Egil Bergh van Noorweë wat destyds saam met my menseregte-oortredinge gemoniteer het. (EAPPI is ‘n program van die Wêreldraad van Kerke. EAPPI program = Ecumenical Accompaniment in Palestine and Israel.)

DSC_0204

Advertisements