Bethlehem se onwettige Israeli Muur

Bethlehem se onwettige Israeli Muur
(soos verskyn in Die Kerkbode, Desember 2011)

Die donker, hok-agtige staalgang van Checkpoint 300 in Bethlehem, Palestina, begin reeds om 02:00 opvul met die half-slapende liggame van diegene wat wag op die hekke se opening om 04:00. Dis meestal Palestynse werkers wat, as hulle nie betyds opdaag vir werk nie, hul werkgewerpermitte en dus hul inkomste verloor. Ander probeer hospitale bereik.

Tydens spitstyd op werksdae moet ongeveer 2500 mense daagliks hier deur die draaihek, metaalverklikker en die paspoortkontrole gaan. Soos baie ander kontrolepunte in die Wes-Oewer is hierdie Israeli-beheerde punt nie ‘n deurgang tussen Israel en die besette Palestynse gebied nie, maar binne-in Palestynse gebied.  Die prosedure kan ‘n paar uur duur en die hekke kan sonder aankondiging en onbepaald op enige punt sluit. Soms gebeur dit omdat ‘n soldaat homself skeer in die aangesig van diegene wat hul brood wil verdien, maar meermale is daar geen duidelike rede  nie.

Israel het in 2002 begin bou aan (wat algemeen bekend staan as) die Muur in die Wes-Oewer na ‘n reeks selfmoordbomaanvalle. 60% daarvan is reeds voltooid.

Die Internasionale Geregshof meen Israel “has the right, and indeed the duty, to respond in order to protect the life of its citizens (but) the measures taken are bound nonetheless to remain in conformity with applicable international law.”  Volgens die Internasionale Hof voldoen die Israeliese Muur nie aan toepaslike internasionale wette nie en hulle het Israel reeds in 2004 versoek om alle bouwerk te staak, voltooide dele af te breek “and to repeal or render ineffective forthwith all legislative and regulatory acts relating thereto”.

Maar deur die jare het Israel se planne vir die Muur herhaaldelik uitgebrei en die bouwerk gaan voort. ‘n Deel loop deur Bethlehem en die aangrensende distrik. Sedert bouwerk aan die Muur hier begin het, het Palestyne 520 hofsake in Israel aanhangig gemaak, meestal sonder enige effek.

Bethlehem se omliggende heuwels bied ‘n duidelike blik op hoe die Muur wegswenk van die internasionaal erkende grenslyn (die “Groen Lyn”) om vrugbare Palestynse landbougrond in te palm.  Wanneer dit klaar is, sal die Israeli Muur 709 km lank wees, dus meer as dubbel die lengte van die Groen Lyn.  Slegs 15% van die Muur sal wettig en op die Groen Lyn (of in Israel) wees met 85% daarvan onregmatig in Palestynse gebied.

Die dorp Al Walaja, wes van Bethlehem, is in 1948 uitgewis waarna talle inwoners vlugtelinge geword het. Dié wat terug gekeer het, het weer huise gebou, maar talle hiervan het tans slopingsbevele van Israel waarvan baie reeds uitgevoer is. Muna (40) en Aisa (50) Hagahla is op Maandag 3 Oktober onregmatig van hul familiegrond vervreemd ten spyte van hul regsaansoek.

Al Walaja is daardie oggend om 06:00 afgesper sodat niks buiten stootskrapers en soldate die dorp kon binne nie.  Teen 14:00 was 50 volwasse olyfbome reeds ontwortel en die nuwe “slegs-Israeli’s” pad en area vir die Muur reeds skoongeskraap was.

Ons het die middag saam met die Hagahla gesin in die skadu van ‘n boom gesit en kyk hoe die Israeli stootskraper se geel tentakel die ledemate van gebreekte, ontwortelde bome hys deur stofgevulde lug.

“Waarheen kan ek gaan?” het Muna gevra. “Die Israelis praat van menseregte, maar hulle respekteer dit nie.  Hierdie grond is ons brood en botter en dateer ses geslagte terug. Ons eet hieruit en verkoop die res om ander dinge te koop.  Wat het ons nou vir ons kinders?“

Artikels 47 and 49 van die Vierde Geneefse Konvensie verbied ‘n besetter om privaatgrond te konfiskeer en eienaarskap oor te dra aan sodanige besetter.

Ons was daar todat dit stil geraak het, die stof gesak het en die gewapende soldaat op die oorkantste heuwel saam met die stootskraper weg is. Die wind het opgekom.  Ek het bly kyk na die beskadigde bord van World Vision wat die dorp se fontein in 2003 herstel het. Wanneer dit klaar is, gaan die Muur hier alle landbougrond inpalm en die dorp afsluit van ander Palestynse gemeenskappe.

Bethlehem se area strek oor 660km2, maar Palestyne beheer net 13% daarvan, die meeste daarvan gefragmenteerd. Israel se onwettige setlaarsdorpe en Muur verbied Palestyne op die meeste van hul eie grond.

In die stad wat geboorte geskenk het aan ‘n Boodskapper van inklusiwiteit, menseregte en liefde, lei toergidse hul reisigers verby die onwettige Muur en die effek daarvan op Christen en Moslem inwoners.

Die Bethlehem EAPPI-span moniteer Checkpoint 300 elke dag vir vyf dae per week, twaalf maande van die jaar, reeds sedert 2003. Ek was daar op ‘n plasingsbesoek. Ons staan om 3:00 op om 3:40 by die kontrolehek te wees waar mense reeds sedert 2:00 wag.

EAPPI is die enigstes wat deur Israel toegelaat word om diens in die kontrolepunt te doen.  Ons tel hoeveel mense deur die normale ry gaan asook hoeveel deur die humanitêre lyn gaan en skakel die “Hot line” wanneer van die hekke sluit in ‘n poging om dit weer oop te kry.  Hiefdie nligting word deur die VN se Humanitêre afdeling gebruik om tendense te moniteer en aksie te neem waar nodig. Hulle gee weer op hul beurt die inligting aan politici en ander rolspelers.

Ons mag nie daar foto’s neem nie, ek kon net ‘n paar op redelik veilige plekke neem:

Ons begin in die donker werk… hier breek die dag

Wagtend

Let op die mense bo-op ander se skouers

Leave a comment