Gallery

Dit gaan alles oor die grond

Sou ’n mens die algehele duur van die Joodse koninkryke as onafhanklik beskou, het die Jode vir ’n totaal van net 414 jaar regeer.

jerusalem-city-night_2153_600x450

Geen gesprek oor die konflik in Palestina is sinvol sonder om die storie in die Ou Testament te gaan haal nie, skryf Dr. Chris Jones, ‘n teoloog by Stellenbosch Universiteit:

Aan wie behoort Palestina? Wie het die grootste historiese aanspraak op die grondgebied? Waarom is dit so moeilik om die konflik tussen ¬Israel en die Palestyne te besleg?

Om die dekades lange konflik in die Midde-Ooste beter te verstaan, help dit om die historiese wortels wat hiertoe aanleiding gegee het ook beter te verstaan.

In die proses is dit ook nodig om baie van die aanvaarde dogma oor byvoorbeeld die Sionistiese beweging en hul historiese aanspraak op Palestynse grondgebied in heroënskou te neem.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Die grond waarop die Palestyne vir meer as 1 000 jaar gewoon het, is met die totstandkoming van die Israelse staat meestal met geweld en sonder hul instemming van hulle afgeneem.

Palestinian loss of land 1946-2005

Van die begin af was dit die Sioniste se doelwit om die nie-Joodse Palestyne van hul grond te vervreem.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Sionisme was egter op ’n foutiewe kolonialistiese wêreldbeskouing gegrond waarin daar niks gevoel is vir die regte van inheemse mense nie.

Tussen 3 000 en 1 100 v.C. het die Kanaäniete op die grond gewoon wat vandag as Israel, die Wesoewer, Libanon en die grootste dele van Sirië en Jordanië bekend staan. Die Hebreërs het teen ongeveer 1 800 v.C. hierheen migreer.

Volgens opgrawings was Jerusalem teen hierdie tyd reeds ’n gevestigde stad. ’n Baie gesofistikeerde waterstelsel wat in daardie stadium moontlik agt eeue oud kon wees, getuig hiervan.

OLYMPUS DIGITAL CAMERAOLYMPUS DIGITAL CAMERAOLYMPUS DIGITAL CAMERA

Die Joodse koninkryke was slegs een van baie tydperke in antieke Palestina. Die uitgebreide koninkryke van Dawid en Salomo waarop die Sioniste hul grondeise baseer, het in totaal net 73 jaar geduur.

En sou ’n mens die algehele duur van die Joodse koninkryke – vandat Dawid Kanaän in 1 000 v.C. verower het tot die uitwissing van Juda in 586 v.C. – as onafhanklik beskou, het die Jode vir ’n totaal van (net) 414 jaar regeer.

Palestina, die bakermat van die Christendom, het in die 7de eeu reeds ’n oorheersend Arabiese land geword. In 1516 word Palestina ’n provinsie van die Ottomaanse Ryk, maar dit was steeds nie mínder Arabies nie.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Sedert 1882 het Joodse koloniste in Palestina begin vestig, maar tot en met die lente van 1948 toe Israel as staat gevestig is, was Arabiere verreweg in die meerderheid. Daar was egter steeds ook afstammelinge van die Semiete – die oorspronklike inwoners van die landstreek – wat Christene, Jode, of Moslems was.

In 1858 kom die Ottoman-grondkode van krag wat vereis dat landbougrond in die naam van individuele eienaars geregistreer word. Vir die eerste keer kon ’n landbewoner ontneem word van sy reg om op grond te bly, dit te bewerk en oor te dra aan ’n volgende geslag. Voorheen was hierdie regte onvervreembaar. Hierdie kode het dikwels gemeenskapsregte op eiendom geïgnoreer.

OLYMPUS DIGITAL CAMERAOLYMPUS DIGITAL CAMERA

Ná die val van die Ottomaanse Ryk en die Eerste Wêreldoorlog word Palestina ’n Britse mandaatgebied.

Die Balfour-deklarasie van November 1917 wat deur die Britse regering uitgevaardig is, het ’n Joodse tuisland in Palestina belowe. Dit beteken ’n Europese krag het ’n besluit geneem oor ’n nie¬Europese gebied sonder inagneming van die teenwoordigheid en wense van die grootste meerderheid inwoners van daardie gebied, die Palestyne.

Van 1936 tot 1939 het die Palestyne in opstand gekom, maar is met Britse mag onderdruk.

In 1947 toe die Verenigde Nasies se partisieplan aangekondig is, het dit grond wat onwettig deur Jode bekom en besit is, amptelik aan hulle toegeken.

Die destydse Sioniste-leier David BenGurion was uiters ongelukkig hieroor, want hy wou nog méér grond hê as wat deur die VN bepaal is – ten koste van die Palestyne, natuurlik.

Teen hierdie tyd was Amerika een van die mees aggressiewe voorstaanders van partisie. Die Verenigde Nasies het met die partisieplan een van hul eie kernbeginsels, naamlik dié van die reg tot selfbeskikking vir álle mense, geweld aangedoen.

In Desember 1947 het Brittanje aangekondig hy gaan op 15 Mei 1948 uit Palestina onttrek. Palestyne in Jerusalem en Jaffa het toe ’n protes teen die partisie uitgeroep en gevegte het feitlik onmiddellik in die strate van Jerusalem uitgebreek. In April 1948 was agt uit die 13 groot Sionistiese militêre aanvalle gemik op Palestyne in die gebied wat aan die Arabiese staat toegeken was.

Picture1

Met hul sterk militêre mag het die Europese Jode teen 15 Mei 1948 die meeste Arabiese stede in Palestina ingeneem. In teenstelling hiermee het die Palestyne nie beslag gelê op een van die gebiede wat deur partisie vir die Joodse staat gereserveer was nie.

Ná 15 Mei 1948 het die Arabiere toegetree tot die stryd, maar dit was die tweede fase van die oorlog – in reaksie op die massamoorde, uitsettings en onteiening wat oor tyd deur Sioniste aan hulle gedoen is. In hierdie tyd het ongeveer 700 000 Palestyne gevlug – van hulle is uitgedryf.

index

index0093Palestyne herdenk die Nakba (Die Katastrofe) in Jerusalem.

In die winter van 1949 was meer as 750 000 Palestyne in ballingskap. In die koue het families in grotte, hutte en tente gebly – uitgehonger, dikwels binne sigafstand van hul eie groentetuine in Palestina, wat tóé deel is van die nuwe staat van Israel.

Sedert die Sesdaagse Oorlog van 1967 het Israel min gevoel vir internasionale wetgewing. Hulle het 52% van die grond in die Wesoewer beset en 30% van die Gasastrook, vir óf militêre gebruik óf die vestiging van Joodse burgers. Tans is dit veel meer.

Net tussen 1967 en 1982 het Israel se militêre regering 1 338 Palestynse huise op die Wesoewer vernietig. Sedertdien het hierdie vernietiging voortgegaan.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA640x392_2170_264609media_29ebc6919dd74f69ad4b1c1ff51d929e_t607israel-5irangazaA Free Syrian Army fighter mourns at the grave of his father in a public park that has been converted into a makeshift graveyard in Deir el-Zor

Gedurende dieselfde tydperk is meer as 300 000 Palestyne sonder verhoor deur Israel se geheime magte aangehou.

Israeli-soldiers-guard-Pa-007

Die VN se Algemene Vergadering het hom intussen wel uitgespreek teen Israel se besetting van die Wesoewer, Oos-Jerusalem en Gasa – en teen Israel se ontkenning van selfbeskikking en dat dít ’n ernstige en groeiende bedreiging vir internasionale vrede en sekuriteit inhou.

OLYMPUS DIGITAL CAMERAOLYMPUS DIGITAL CAMERA

Die jongste geskiedenis is gekenmerk deur die bou van ’n sogenaamde “apartheidsmuur” tussen die Palestynse gebied in die Wesoewer, Oos-Jerusalem en Israel, met gepaardgaande inperking op die beweging van mense in hul eie staat. Palestynse huise, ander infrastruktuur en grond word in die Wes-oewer en Oos-Jerusalem onteien of vernietig en nuwe Israelse nedersettings brei steeds in die besette gebiede uit.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Voorts is daar die onwettige verbruik van water deur Israelse setlaars en daarmee saam die inkorting van watervoorsiening aan die Palestyne in die Wesoewer, asook Israelse militêre intimidasie in die besette Palestynse gebiede.

OLYMPUS DIGITAL CAMERAOLYMPUS DIGITAL CAMERA

Dit lyk of Israel hul militêre stewels stewig in die gesig van die Palestyne wil hou. Dít is natuurlik olie op die konflik-vuur in Palestina.

Weerstandsbewegings word gevoed deur diskriminasie en menseregteskendings.

’n Mens kan weerwraak op grond van historiese onreg nooit regverdig nie, tóg sal dit ’n logiese gevolg wees – partykeer tot die uiterste gedryf, soos Hamas wat kort ná hul stigting in 1987 erken het hy wil Israel vernietig. Tog is dít nie genoem in sy Palestynse parlementsverkiesingsmanifes van 2006 nie.

Dit is nie goed genoeg dat politici net hierdie krisis bestuur nie, dit moet opgelos word. En dít kan slegs in ooreenstemming met internasionale wetgewing gebeur. Dit is al hoe ware, volhoubare vrede moontlik is. In hierdie opsig het Israel veral baie werk om te doen.

Soos gepubliseer op 24 Aug 2014 in Weekliks – Rapport.

A002

Quote

My brief oor Woolworths aan Die Burger wat nié geplaas is nie

Geagte Redakteur,

U berig ”Woolies wil nie sê wat die Moslem-boikot aan sy verkope doen” (DB, 01.10) noem nie dat ook Christene, nie-Sionistiese Jode en talle andere die vreedsame, wettige boikot teen Woolworths ondersteun nie. Dis deel van ‘n internasionale strategie soortgelyk aan dié een wat Suid-Afrikaanse apartheid help beëindig het.

Woolworths het handelsbande met Israel wat welbekend is vir menseregteskendings in die besette Palestynse gebied (Gaza, die Wes-Oewer en Oos-Jerusalem). Weerstand teen Israel behels nie ‘n protes teen Jode nie, maar teen ‘n beleid van grootskaalse menseregtevergrype.

Die veldtog van boikot, disinvestering en sanksies (BDS) teen Israel is die keuse van die meerderheid Palestynse burgerlikes (www.bdsmovement.net). So het die Gates Stigting onlangs al hul aandele in die G4S sekuriteitsmaatskappy verkoop, en plaaslik het Karstens Plase hul bande met die Israeliese uitvoerder Hadiklaim verbreek.

Woolworths sê hulle is ‘n etiese maatskappy. Tog voer hulle produkte soos pretsels, koeskoes, matzos, koljander en vrugte in van Israel. Woolworths sê hulle kom die wet na en hoef nie meer te doen nie. Wetgewing is egter net die basis van ‘n gemeenskap se moraliteit. Etiek begin waar die reg stop. As Woolworths regtig eties verantwoordbaar is, sal hulle gehoor gee aan die internasionale oproep om ekonomiese isolasie van Israel.

As Suid-Afrikaners hul identiteit as ‘n baken van hoop wil laat herleef, moet al die lae van ons samelewing met morele integriteit handel. Om handelsbande met Israel te handhaaf is net so onverantwoordelik soos om die Dalai Lama die land te weier.

Vriendelike groete,
Marthie Momberg

3 Oktober 2014

Op soek na die waarheid

Op die vyftigste dag van die uitmergelende 2014 konflik tussen Israel en Gaza het ‘n groepie van vyf kerklidmate na ‘n DVD, Roadmap to Apartheid gekyk. Dié lede van die Fontaineblue Gemeenskapskerk (lid van die NG Kerk) wou graag meer verstaan van die konflik tussen Palestina en Israel. Dit mag onbeduidend klink – dit was immers net vyf mense. Tog het ek geleer dat ‘n verskuiwing in persepsies juis so kan begin – met een of twee mense wat kritiese, eerlike vrae vra.

DSC_0105

So skryf Ds Johan Pieters, leraar van die gemeente, op Fontianeblue Gemeenskapskerk se webblad oor die rol van Afrikaans-sprekende witmense en die soeke na waarheid:

Soos dit met hierdie kontroversiёle sake gaan is daar soveel mense, soveel menings. FGK se styl met kontroversiёle sake (soos homoseksualiteit, die bestaan van die bose, Belhar, saam-woon en die huwelik) is om te erken dat daar verskillende standpunte is. Ons glo ons taak is om te probeer om mekaar te verstaan, en dalk so ‘n gemeenskaplike konsensus te ontwikkel. Gesprek oor Israel-Palestina is dus ook nodig.

Wat het ek so ver geleer deur na die DVD te kyk en daaroor met mede-lidmate te gesels?

Dit het algemeen geword om Israel se optrede “Apartheid” te noem. Blykbaar is Sen. John Kelly die persoon wat eerste keer die vergelyking getref het, maar dr. HF Verwoerd het al in die 60’er jare al oor Israel as ‘n Apartheidstaat gepraat. Die video gebruik ons Apartheidsgeskiedenis om die Israel-Palestina konflik, en die impak daarvan op mense, in perspektief te stel.

Die eerste saak is dat ons, veral Afrikaans-sprekende wit mense (jammer vir die etiketering), hierdie konflik moet probeer verstaan. Ek is oortuig dat ons nie net anders na ons eie geskiedenis gaan kyk nie – en daarmee bedoel ek nie dat ons onsself nou nog meer moet treiter en aan self-veroordeling moet deelneem nie. Ek dink ‘n poging om die konflik te verstaan kan ons selfs help met ‘n stuk genesing en perspektief oor wat met ons gebeur het, insig in wat ons blindekolle was. Die vrug kan wees dat ons met groter deernis na albei partye se posisie kan kyk.

Die tweede saak wat my bybly, is die vraag na die waarheid. Hoe kies ek “kant” in ‘n situasie waar daar soveel teenstrydige perspektief en aansprake op feite is? Feite wat ek baie moeilik kan kontroleer. Vir my lyk die antwoord dat ek ‘n geloofskeuse moet maak. So ‘n geloofskeuse het nie te doen met ek “glo” Israel, of ek “glo” Hamas is “reg” nie. Dit het te make met ‘n keuse wat versoenbaar is met ons Godsbegrip – wat natuurlik self ook nie ‘n eenvoudige saak is nie. Die geloofsuitspraak wat ek maak is: “Ek glo dat God ‘n God van lewe is”, daarom moet ek wat die saak betref keuses maak wat “lewe” sal bevorder. Met lewe bedoel ek nie maar net fisies lewe nie, maar ‘n lewe wat met waardigheid geleef kan word, in gehoorsaamheid aan ‘n roeping, met betekenis en ideale geleef kan word – natuurlik sluit dit in dat daar ook toegang moet wees tot die middele om so ‘n lewe te kan leef.

Ek dink nie dat die konflik vir enige burger van Israel of Palestina ‘n moontlikheid van so ‘n lewe bied nie. Die konflik is ‘n konteks van dood vir albei groepe – net soos Apartheid ‘n konteks van dood was vir wit en swart in Suid-Afrika. Ek is wel oortuig dat (selfs al is die DVD net 50% akkuraat) die Palestyne in hierdie konflik die weerloses is, en dat God op ‘n “besondere manier” (as ek Belhar se formulering mag gebruik) aan die kant van die armes, swakkes en weerloses is. Die sterker een, die een met die mag in hierdie konflik is Israel. Hulle word deur God geroep om aan God se kant te wees, m.a.w. om saam met God by die Palestyne te staan.

Hierdie konflik is veel meer as net ‘n reaksie op “Hamas het drie Israeli tieners doodgemaak, en daarom het Israel gereageer.” (Terloops dit is nog ‘n ope vraag of dit regtig Hamas was wat die tieners doodgemaak het!) Dit is ‘n dekade-oue konflik oor saam-leef en saam-bestaan, dit is ‘n konflik oor aspirasies en vrese, oor vryheid en veiligheid, oor identiteit en mens-wees. Dit is dalk so eenvoudig soos: Hoe kyk ek na jou? Is jy ‘n mens of nie, iemand of ‘n niemand?

DSC_0229

Die foto’s in hierdie stuk is in Oktober 2011 geneem in die Wes-Oewer, Palestina. Die fotograaf is Jan-Egil Bergh van Noorweë wat destyds saam met my menseregte-oortredinge gemoniteer het. (EAPPI is ‘n program van die Wêreldraad van Kerke. EAPPI program = Ecumenical Accompaniment in Palestine and Israel.)

DSC_0204

Joligheid: Oktober olyfoes

Oktobermaand is olyfoestyd vir Palestyne – tradisioneel ‘n vrolike kulturele, sosiale en ekonomiese bedrywigheid.  Almal werk saam en hou tydens middagete heerlik piekniek in die koelte van die bome.

In Yanoun het ek iets hiervan beleef, maar dinge was nie algeheel idillies en sorgvry nie.  Maar tog, as almal saam werk, vuil word, sing, en eet, vergeet ‘n mens amper van die besetting.

Boere mag dikwels nie by hul boorde kom om te oes nie, en indien wel, moet hulle beskerm word.  Beskermingsbegeleiding is een van die sleuteltake van ekumeniese werkers in die WRK se EAPPI-program. (Terloops, Linda wat links sit, en Ueli wat nie op die foto is nie, het beide tydens die oes van die wankelrige houtlere afgeval – Ueli met taamlik rampspoedige gevolge vir sy rug, en albei met ‘n groot geterg van die res van ons.)

Die inwoners van ons dorp (en elders) het weke in spanning gewag om te hoor of hulle permitte sou kry om by hul (eie) boorde uit te kom – en uiteindelik mag hulle nie by al hul (weer eens eie, wettige) boorde gekom het nie.  Tydens die oes was daar weermagvoertuie wat op en af gejaag het en ons was heeltyd op die uitkyk vir setlaars wat wou amok maak.

Oktober 2011:

Ons begin soggens net na sonop.  My hande is gaar en elke stukkie van myself en my klere is stofbedek, maar dis vreeslik lekker.

 Middagete is vars taboonbrood met olyfolie, za’tar, gebakte eiervrug en soetrissies, volryp tamaties, uie, skaap- en bokmelkkaas en piekels, en dan tee met salie – absoluut heerlik!

Middagkoffie

Ek wens ek het ook handskoene hier (te ver van die winkels)

Foto deur Jan Egil Berg, Ekumeniese Begeleier, Noorweë.

Hoewel dit goed gaan in Yanoun (buiten vir die drie groepe onwettige, gewapende Israeliese setlaars wat  deur die dorp en die landerye gestap het), gaan dit moeiliker in die ander dorpe waar ons werk.

Dit neem jare voordat ‘n olyfboom begin vrugte dra.  In die eerste jaar het so ‘n boom daaglikse aandag nodig en later weekliks of maandeliks.  Teen die tyd dat die bome groot is, word hulle amper soos “kinders” beskou.  Dis hartverskeurend om dan te sien hoe die bome doelbewus beskadig en vernietig word deur setlaars.

Die olyfolie-industrie beslaan 14% van Palestyne se landbou-inkomste en verskaf inkomste aan sowat 80 000 gesinne.

Ongeveer die helfte van die besette Palestynse gebied (48%) is beplant met olyfbome waarvan die meeste in die Wesoewer–  omtrent orals waar ‘n mens kyk.

Elke stukkie word gebruik – selfs die afvalmateriaal wat oorbly nadat die olywe gepers is.  Hierdie korrelrige afvalmateriaal word weer huis toe geneem en daar gedroog vir  gebruik in die winter om vuur mee te maak (die olierigheid laat ‘n klein vuurtjie sommer goed ontvlam):

Die ontwrigting van die olyf-industrie raak die hart van die Palestyne.  Juis daarom word dit gereeld geteister deur Israeli setlaars.  Organisasies soos Rabbis for Human Rights (www.rhr.org.il) en Joint Advocacy Initiative (www.jai-pal.org) doen geweldig baie deur vrywilligers te reël wat in die oestyd saampluk met die mans, vrouens en kinders en ‘n teenwoordigheid handhaaf.

Maar deur die loop van die jaar moet die bome versorg word.  Dit moet gesnoei en die grond moet omgeploeg en bemes word sodat die winterreën kan indring.  As dit nie gebeur nie, is die oes klein en swak – soos ek laas jaar in Yanoun beleef het.

Israel maak dit so moeilik as moontlik vir boere:

  • Daar is 73 Israeli “hekke” waarvan die meeste (52) heeljaar gesluit is sodat boere nie by hul boorde kan kom nie buiten tydens oestyd vir ‘n beperkte aantal ure wat meestal te min is om alles te oes.
  • In 2011 is 42% van aansoeke om permitte vir toegang tot die boorde tydens die oestyd verwerp (39% in 2010).
  • Tussen Januarie en middel Oktober 2012, het Israeli setlaars in die Wesoewer sowat 7 500 bome van Palestyne beskadig of vernietig (uitgetrek, verbrand, vergif, afgekap) (dis ongeveer 2000 minder as in dien ooreenstemmende periode in 2011).
  • Volgens Yesh Din, ‘n Israeli vredesorganisasie wat Palestyne help, het net een van die 162 klagtes teen setlaaraanvalle op Palestynse bome gelei tot die aankla van ‘n beskuldigde.
  • In Gaza is 7 300 dunums boorde al langs die grens met Israel platgevee deur Israeli militêre operasies.

Foto’s Oktober 2012: Olyfoes in Hebron: vrywilligers gearresteer deur die IDF

Ek hoop om binnekort my eie twee olyfbome te plant 🙂

Gallery

My (eertydse) mites oor Palestina en Israel

Die Jordaanvallei

Iemand het my ‘n paar vrae gevra…. wat my ’n soort “déja vu”-gevoel gegee het, omdat dit my eertydse persepsies raakvat.

My antwoorde is uiteraard nie volledig nie, maar ek probeer….

 

Mite 1.  Die “twee kante” van die saak (Israel/Palestina) weeg eweveel

Wat  EAPPI namens die Wêreldraad van Kerke geverifieerd waarneem en rapporteer aan die VN sedert 2002, is ‘n sistematiese en  ‘n sistemiese benadeling van die Palestyne.  Dit behels aanhoudende oortredings van menseregte en die internasionale humanitêre reg soos bepaal deur die Geneefse Konvensie, die Haagse Konvensie, VN resolusies en die Internasionale Geregshof.

Daar is vier breë temas van benadeling:

  • sluiting, kontrole oor, en beperkings op beweging (dus “checkpoints”, ompaaie (vir Palestyne) wat nie onderhou mag word nie, en pragtige paaie (vir Israeli’s);
  • huis- en ander slopings en die onteiening van landbougrond;
  • die effek van die Muur en die gepaardgaande regime; en
  • Israeli setlaargeweld en teistering (alle Israeli setlaars in die Wes-Oewer woon onwettig daar).

Daar is geweld deur ekstremiste aan beide kante, maar dis belangrik om te besef dat die Paletyne nie sistematiese en sistemiese oortredings van menseregte pleeg nie, terwyl Israel dit wel doen ten opsigte van die Arabiere in Israel én t.o.v. die Palestyne in Ghaza en die Wes-Oewer (die besette Palestynse gebied).

 

Bethlehem, die Muur met onthoofde olyfbome

Mite 2. Palestyne is aggressief

Ekstremiste en geweldplegers aan albei kante teiken gewone burgers.  Ek verstom my egter dat die meeste van die Palestyne (Moslems sowel as Christene) vredesgesind is.  Hulle vra bloot (dringend) dat die internasionale wette op menseregte hier nagekom moet word.  Ek is tot in my siel geruk oor die smart en lyding van hierdie mense en hul reaksie daarop – hulle weerstand is om hul gesloopte waterpompe te herstel, om weer olyfbome te plant nadat dit uit die grond geruk is, om weer huise en moskees te bou nadat dit gesloop is, om vredesboodskappe in graffitti op die Muur te skryf, om aan te hou met lewe en te hoop dat dinge eendag sal verander.

Sou ek so gereageer het?

Hulle is diep gelowige mense – dié Moslems en die Christene.  En hulle hou aan hoop. En glo dat God se wil sal geskied. En dat daardie wil vrede en gelykheid behels. Ek/ons hoor hierdie boodskappe uit mense se monde wanneer ek by hulle sit terwyl hulle olyfbome ontwortel word, hulle grond onteien  word, hulle huise gesloop word, hulle in lang toue vanaf 2:00 staan om by hul werk te kom, wanneer vieslike dinge op hul moskees geverf word en mense geskiet (en gedood) word in aanvalle deur gewapende (onwettige) Israeli setlaars. Al hierdie dinge het ons reeds saam met hulle beleef.

 

Die son skyn oor almal, maar net party het munisipale dienste

Mite 3. Israel streef vrede na

Israel se boodskappe na buite is gebaseer op die mantras “peace” en “truth” gekombineer met vreesaanjaende boodskappe oor “Arab terrorists”.

So reageer Allan Wolman byvoorbeeld op ‘n artikel van my in die Sunday Independent:

Ms Momberg whist you might not sleep that well under the lights you describe I can assure you that thousand more Israeli families sleep even less well due to the necessity to be vigilant against terrorist attackers who slit the throats of their children at night!

(Taalfoute Mnr Wolman se eie)

Mnr Wolman substansieer of verifieer nie wat hy sê nie.  Hy val bloot dit wat ek en my kollegas waargeneem, gefotografeer en gedokumenteer het aan met die doel om dit te diskrediteer.

Lees sy brief hier:
http://mediateamisrael.wordpress.com/2011/10/05/allan-wolman-in-sunday-independent/

en my brief hier:

https://marthiemombergblog.wordpress.com/2011/10/03/west-bank-settlements-peace-or-piece-by-piece/

Na buite het Israel drie kernboodskappe:

  • We just want peace.
  • What we want is based on truth.
  • Our lives are threatened by those Arab terrorists.

Maar na binne verskerp die amptelike diskriminasie en benadeling van Palestyne en word menseregte-oortredings versnel.

Op dieselfde dag waarop Gilat Shalit vrygelaat is in 2011, lees ek in die koerante  Israeli Eerste Minister Netanyahu se aankondiging van ‘n taakgroep om onwettige buiteposte van setlaardorpe te “wettig”.  Volgens Israel is net enkele buiteposte op Palestynse grond onwettig (omdat dit nie Israeli-staatstoestemming het nie), maar volgens die internasionale gemeenskap en die Vierde Geneefse Konvensie (Art 49, par 6) is ALLE setlaardorpe en buiteposte in die besette Palestynse gebied onwettig. Netanyahu se hele toespraak op die 23e September was “peace, peace, truth, truth, truth”…  maar…. dan kondig hulle net daarna aan dat onwettige nedersettings (“settlements”) uitgebrei word – soos met die 1500 nuwe huise in Gilo by Bethlehem, maar ook in al die dorpe in die gebied waar ons werk. Dit gaan my verstand te bowe.

Watter soort vrede streef Israel na?

Sien ook:

Israel’s new settler build cuts off Bethlehem and Jerusalem: http://www.maannews.net/eng/ViewDetails.aspx?ID=429214

UN: Israel’s plan for new settler district ‘unacceptable’
http://www.maannews.net/eng/ViewDetails.aspx?ID=429312

Ekumeniese werkers: Jan Egil Berg (Noorweë), Emma Idestrand (Swede), Erik Charpentier (Swede)

Mite 4.  EAPPI werkers se blootstelling is eensydig

EAPPI werk saam met talle Israeliese vredesgroepe, soos:

  • Rabbis for Human Rights wat al  jarelank die Palestyne in Oktober help om hul (eie) olywe te oes en weerstand te bied teen ekstremistiese setlaars wat dit probeer verhoed.
  • Women in Black in Wes-Jerusalem wat elke Vrydag in stilte betoog om hul eie landsgenote te sensitiseer vir onregte in Palestina (hulle is benoem vir die Nobel-prys);
  • Machsom Watch – vrywilligers wat diens doen by kontrolepunte;
  • Breaking the Silence, oud IDF-soldate wat nou hul ervarings in die weermag deel met hul landgenote en die res van die wêreld en help met ons opleiding;
  • Yesh Deen wat humanitêre hulp verleen aan ontheemdes;
  • B’tselem wat videos maak van menseregte-oortredings in Palestina en dit versprei;
  • New Profile wat jong Israeli’s wat nie weermag toe wil gaan nie, bystaan;
  • Peace now wat die onwettige Israeliese nedersettings en die voortgesette uitbreiding daarvan probeer stop; en
  • The Other Voice wat die gesigloosheid van die mense in Gaza probeer oorkom.

Ons was ook by die Holocaust museum in Jerusalem tydens ons opleiding en het daar weer onder die indruk van die ontsetting van WWOII gekom.  Die punt is, EAPPI werk met ALMAL wat vrede, menseregte en die handhawing van die internasionale menseregtewette voorstaan. EAPPI is gegrond in samewerking met beide partye. Ons keur alle vorme van geweld, aan albei kante af.

Op ons afdae (12 dae in die drie maande, onthou ekumeniese begeleiers werk 24/7) is ons aangemoedig om na Israel te reis en as groep het ons met Bob Lang, ‘n Israeli setlaar (oorspronklik van die VSA) gesels.

EAPPI is die enigste internasionale organisasie wat binne kontrolepunte mag werk (Machsom Watch mag nie). Ek het in Bethlehem soggens om 3:00 opgestaan om diens te doen by Checkpoint 300.  Daar onderhandel ons met die soldate om die hekke oop te hou vir mense wat moet gaan werk en by hospitale uitkom, en wanneer nodig, skakel ons die Humanitarian Hotline om hulp – ‘n afdeling van die Israeliese weermag.

Oktober is olyfoestyd

Mite 5: Die bakleiery gaan al 3000 jaar lank aan en sal altyd voortduur.

Vir eeue het Christene, Moslems en Jode in vrede hier geleef – tot en met 1947 met die aankoms van Europese Jode.  Dis belangrik om te verstaan dat die konflik nie heers tussen ALLE Christene, Moslems en Jode nie.  Baie van die Jode, hier en in die res van die wêreld, kies om nie met Sionisme te vereenselwig nie  en ook nie met die moderne staat Israel nie.

Gedurende die opkoms van Naziisme het die meeste Jode geargumenteer dat hulle in Europa moes bly en hul beywer vir gelykheid in hul eie lande.  Die Sioniste-beweging (‘n subgroep binne Judaïsme) daarenteen, het geargumenteer dat hulle ‘n eksklusiewe land vir hulself – net vir hulself – benodig.  Dis ongelukkig presies hierdie soort denke wat lei tot die uitsluiting van andere, en soms neem die uitsluiting gruwelike vorme aan soos gebeur het onder Hitler.

Die Sioniste het Palestina gekies – ‘n land wat reeds bewoon was.  Ek het lank gemeen Palestina was “a land without a people for a people without a land”. Maar dis nie so nie.  Hier was (en is) ‘n wonderlike beskawing en die Jode wat hierheen gevlug het, het geen genetiese bande met die land nie, hulle deel bloot die geloof van sommige (die minderheid) van die mense wat hier gewoon het tot en met 1948.

Sionisme was dus een van die eerste redes wat aanleiding gegee het tot die konflik. ‘n Verdere (bisarre) komplikasie was dat die Britte na die eerste WO onafhanklikheid aan beide die Palestyne en die Jode beloof het op dieselfde stuk grond. Klink die inmenging van Europa in ‘n ander land bekend? En onthou, die VSA en Brittanje het streng beperkings geplaas op die Jode wat na WOII na hul lande mog emigreer.

Na WOII het die VN die land verdeel en die meeste grond (57%) het gegaan aan die minste mense (die Jode) – dalk weens die verskrikking van die Holocaust? Wat dan van die Palestyne?  Het hulle die Holocaust veroorsaak? Die Palestyne en Arabiese lande het hulle hierteen verset en die Weste het die VN se besluit om grond van die Palestyne af te neem en vir die Jode te gee, verdedig. Die Palestyne noem 1948 se besluit en die verdere geweld deur Europese Jode die “Nakba” – die Katastrofe.  Israeliese burgers en soldate het heel dorpe (520) uit hul huise gedryf, vermoor en die meeste van die Palestyne het alles agtergelaat en vir hul lewens gevlug.  Hierdie vlugtelinge het vandag nog kaart, transport en sleutels van hul eiendom, maar daardie eiendom is alles vernietig of beset deur Israeli’s en die Palestyne woon tot vandag toe in vlugtelingskampe.

Sedertdien het die Israelis net meer en meer grond van die Palestyne afgeneem en onwettig beset. Tans het die Palestyne net sowat 22% van wat hulle in 1948 gekry het, oor.  Hiervan beset Israel ‘n verdere 60%  volledig, en ander dele gedeeltelik.

Die meeste Palestyne (7 miljoen, dws 70% van alle Palestyne wêreldwyd) is ontheem – sommige meer as eenmaal – eers in 1948 en toe weer in 1967….  en sommige vandag nogmaals wanneer hul huise gesloop word of hul grond onwettig ontheem word.

Sommige Palestyne is so moeg vir die konflik dat hulle vandag bereid is om net 22% in vrede te kry – dis in wese waaroor die voorlegging op 23 September 2011 gehandel het. Ander reken weer dat daar net een staat moet wees waar almal in vrede leef (soos in Suid-Afrika).

Die bekroonde film Occupation 101 is ook verhelderend.

Kyk die hele film gratis hier.

… of gaan leen ‘n kopie by die NGK Stellenbosch Welgelegen se kerkkantoor.

Gallery

Jaffa, Israel – anything goes?

 

Op pad na die see by Jaffa, Tel Aviv in Israel vir ‘n heerlike ontspandag….

Langs my in die bus... wat gebeur met die psige van ‘n jong kind as sy pa op ‘n Donderdagoggend, 9:00, gewapen sit op ‘n bus?

Ons stop by die kontrolepunt, en twee soldate met M16s klim op die bus en kyk elkeen van ons deeglik deur.  Ek slaag die toets en ons ry sonder slag of stoot verder.

By ‘n robot in Tel Aviv: ‘n Olyfboom, ten minste ‘n paar dekades oud, wat pas nuwe takke uitstoot nadat dit duidelik van elders oorgeplant is.

Is dit nog ‘n onthoofde olyfboom?  Ek het al baie gesien sedert ek hier is.  Hier is hulle dikwels honderde, selfs duisende jare oud.  Israeli-werkers sny die takke van bome op Palestynse gebied af, ontwortel dit met hyskrane en plant dit weer – maar nie in Palestina nie.

Dit doen hulle om plek te maak vir die (onwettige) Muur wat uiteindelik dubbeld die lengte van die internasionaal erkende grens (die sg. “Groen Lyn”) sal wees.

Bethlehem: Onthoofde bome wat moes plek maak vir die onwettige Israeli Muur.

Al Walaja, wes van Bethlehem, sal uiteindelik algeheel omring word deur die Muur. Hier het ek saam met die Hagahla familie gesit en kyk hoe hul familiegrond van ses geslagte deur die aanbou van die Muur van hulle vervreem word. Ongeveer 50 olyfbome is daardie dag onthoof, ontwortel en weggevoer.

By die laaste bushalte in Tel Aviv word my tas, laptop, toiletsakkie en handsak deursoek.  Het ek dalk ‘n vuurwapen?  Nee, antwoord ek vriendelik. ‘n Mes?  Nee ook nie, antwoord ek steeds vriendelik. Het ek ‘n wapen van enige aard?  Nee.  (Nou ja. Wat as ek wel een gehad het ? Gits noudat ek daaroor dink – wat van my kamera en my pen?)

In Jaffa gaan stap ek by die see. Dis pragtig. Die stadsprofiel sluit verskeie moskeetorings in – maar ek is tog nou in Israel en nie in Palestynse gebied nie?

Kan dit wees dat Jaffa ‘n meer inklusiewe, ‘n meer verdraagsame area in Israel is?

Hier is na alles Jode van alle kleure en geure (en lande)

Perhaps anything goes in Jaffa?

Ek weet werklik nie hoe dinge hier inmekaar pas nie, en is vir die oomblik tevrede om in die laaste son langs die see te stap voor die koue en reën wat vir volgende week voorspel word.

Hmm...‘n moontlike leidraad vir die verskeidenheid? Hier word Jaffa as Yafo gespel.

Ek draai om na die museum waar ek vroeër op ‘n kliptrap in die koelte gesit het…. ‘n Groep toeriste sit nou buite op die trappe. ‘n  Sekuriteitswag by die ingang gee my ‘n pamflet wat sê die museum gedenk die gevalle stryders van die “Irgun Zvai Leumi (I.Z.L.) – who fell in the campaign to conquer Jaffa.” (So Jaffa is die Arabiese woord vir Yafo.)

By die ingang is ‘n kennisgewing wat sê ‘n mens moet jou ID/paspoort wys en na my geselsie met die wag haal ek my paspoort uit, maar hy sê dis onnodig en wil dit nie eens optel nie.  Ook die kassier ontvang my vriendelik en sê dis in orde as ek foto’s neem.  Ek voel soos ‘n spioen.

Die verwelkomingsteken by die ingang na die museum. Openlik. En skokkend.

Die uitstalling vertel die verhaal van die ondergrondse militêre beweging wat vanaf 1931 – 1948 Palestynse dorpe gewelddadig oorgeneem het.  Die taal is deurspek met woorde soos “heroic”, “brave”, ens.

Kenmerkend van elke dorp se verhaal is die klein aantal Israeli-soldate wat gesterf het teenoor die groot aantal Palestyne wat gesterf het.  In Deir Yassin het vyf Israeli’s teenoor 110 – 250 Palestyne gesterf.  Talle mense het hierna uit ander dorpe uit hul huise gevlug en die Israeli’s het beslag op hul huise en dorpe gelê.  Die vlugtelinge is nooit toegelaat om terug te keer nie.

Jaffa, is aangeval en oorgeneem “to eliminate the threat of a naval base by the enemy.” Volgens die 1947 verdelingsplan van die VN was Jaffa geoormerk as Arabiese grondgebied. Ek haal aan uit Wikipedia http://en.wikipedia.org/wiki/Jaffa:

“On April 25, 1948, Irgun (a Zionist paramilitary group) launched an offensive on Jaffa. This began with a mortar bombardment which went on for three days during which twenty tons of high explosive were fired into the town. On April 27 the British Government, fearing a repetition of the mass exodus (by Palestinians) from Haifa the week before, ordered the British Army to confront the Irgun and their offensive ended. Simultaneously the Haganah had launched Operation Chametz which over-ran the villages East of Jaffa and cut the town off from the interior.

The population of Jaffa on the eve of the attack was between 50,000 – 60,000, with some 20,000 people having already left the town. Then a strange phenomenon was revealed before our eyes: the mass flight from Jaffa. Arab civilians and a variety of “Arab” fighters suddenly began to leave the town in panic’. By 30 April there were 15,000 – 25,000 remaining. In the following days a further 10,000 – 20,000 people fled by sea. When the Haganah took control of the town on May 14 around 4,000 people were left. The town and harbour’s warehouses were extensively looted. The remaining Arab residents were forced into the Ajami neighborhood, surrounded by barbed wire, where martial law was in effect for a year.”

Sowat 750 000 Palestyne het tydens die Nakba (die Katastrofe) vlugtelinge geword in 1948.  Die meeste van hierdie mense het nog die sleutels van hul huise, maar hulle is nooit toegelaat om terug te keer nie.  Baie van die 1948-vlugtelinge is in die 1967 oorlog weer ontheem – vir die tweede maal in minder as 20 jaar.

Does anything go in Yafo….  as long as it sides with Israel?

Gallery

Israeli’s met verskillende perspektiewe

In die middel van ons termyn, het al sewe die EAPPI spanne meer opleiding en blootstelling buite die areas waar ons werk gekry.  Ons het met Israeli vredesorganisasies gepraat, asook met ‘n (onwettige) Israeli setlaar.

Hier is ‘n paar foto’s:

Ons vertrek Sondagoggend opgewonde vanaf Yanoun – Eduardo (links), Ghassan ons vriend, kontak, vertaler en taxi-bestuurder (middel) en Ueli (regs)

‘n Gesprek met Michael, hoof van Breaking the Silence – ‘n groep veteraan Israeli soldate wat vrede nastreef.

By die Suid-Afrikaanse verteenwoordigende kantoor in Ramallah.  Hier is ek, Mpumi, Zodwa en Alicia by SA Ambassadeur Makalima.

Die gesprek met Ruth Hiller van New Profile was fassinerend. Sy is deel van ‘n Israeli vredesorganisasie wat jongmense help om kwytskelding van militere diensplig te verkry.

 

Bob Lang, voorheen van die VSA maar nou setlaar van Efrat by Bethlehem, is  hoof van die Efrat godsdienskomitee. Hy ontvang gereeld toeristegroepe en het ook met ons gepraat.

Kort voor lank haal Bob ‘n kaart uit om te verduidelik hoe klein (die supermoondheid) Israel is en dat al die grond deur God aan die Jode beloof is.

Hy verduidelik dat die heuwels waar daar tans (onwettige) setlaarsdorpe is, “leeg” was. Hy laat na om te noem hierdie heuwels (en setlaarsdorpe) is binne die grondgebied wat die VN aan Palestina toegestaan het in 1948 en dat Israel dit volgens die Geneefse Konvensie nie mag benut nie.

As hulle (die Palestyne) kan bewys dat hulle die grond besit, sal ons meer as gelukkig wees om dit van hulle te koop“, vertel hy. Hoekom noem hy nie dat die VN in 1948 die grond aan die Palestyne toegewys het nie? Die VN se stappe teen Israel lei  tot niks nie, want die VSA veto telkens (ten minste 14x al) optrede teen Israel.

Ons streef vrede na. Ons moet hier leef want Abraham het op hierdie grond geloop. Ons hoop om verder uit te brei. Ek glo in ‘n een staat oplossing – die staat sal Israel wees. Dit sal vrede bring gebaseer op gelykheid.” Gelykheid? Wie besluit wat is gelyk? En geregtigheid? Watter soort vrede? Vir wie? Ek skat dis die soort praatjies wat toeriste se harte sag maak vir Israel se wandade.

Oor die meer as 750 000 Palestynse vlugtelinge van 1948 sê Lang: “‘n Mens kan nie na 60 jaar nog ‘n vlugteling wees nie – they must get over it“. Verstaan ek reg – mense wie se voorgeslagte nog nooit in Israel gebly het nie, mag “terugkeer” solank hulle Joods is, maar mense wie se voorgeslagte terugstrek na die tyd van Ou Testament en nie Joods is nie moet voert en is nie vlugtelinge nie?

Terug in Jerusalem ontmoet ons nog mense…

Tim Williams van die Kwartet (links) en EA Jan-Egil Berg in gesprek. Op ons vraag aan Tim oor wat in die pad van vrede staan, was sy antwoord dadelik: “Sonder twyfel Israel se besetting van die Palestynse gebied.”

Daar was selfs tyd om vinnig toeris te speel in Jerusalem…

Skemer in die tuin van Getsemane – ‘n wonderlike, wonderlike ervaring vir my. Hierdie olyfboom is 2000 jaar oud!

Jerusalem: die ou stad se muur.

Wat ek nie hier genoem het nie, is:

Ons gesprekke met spesialiste oor Christen-Zionisme, ons fantastiese gesprekke met die Israeli vredesorganisasies Peace Now en The Other Voice asook met iemand van die Arab Minority Rights in Israel.  Ek hoop om later iets hieroor in die media te doen.

Gallery

By ‘n Christen-Palestynse gesin

Vir ons verpligte afdae moet ons êrens heen reis.  Alicia (van Johannesburg en tans van die Bethlehem-span) en ek was vir drie dae in die gastehuis van ‘n Christen-Palestynse gesin in Ramallah (op die dag waarop Gilad Shalit en Palestynse gevangenes vrygelaat is.

Hier is ‘n paar foto’s van ‘n dagtoer wat ons saam met ons gasheer onderneem het – met my en Alicia as die laastes om daardie aand uit die Dooie See te stap.

Ontbyt in Rawda en Isa se gerieflike gastehuis, in Ramallah met taboon, humus, tamatie, komkommer, soetrissie, kaas, eier en tee met salie

Straatvreugde oor die vrylating van gevangenes

Tuisdorp van ons gasheer en -vrou... van waar hulle in 2000 tydens die Tweede Intifada getrek het omdat Israel die dorp afgesper het. At Tayba is die laaste algeheel Christelike dorp in Palestina en bekend vir sy Oktober bierfees.

Daar is vier kerke in At Tayba…maar is die Christendom onthoof in Palestina?

Toeriste en pelgrimsreisigers wat geraak word deur Bethlehem, die plek waar Christus gebore is, kom meestal nie in aanraking met die Muur of die effek daarvan op Christen- en Moslem-inwoners nie.  In die stad wat geboorte geskenk het aan ‘n Boodskapper van inklusiwiteit, menseregte en liefde, lei toergidse hul reisigers verby die onwettige Muur en die tragiese skeiding van mense.

Ek kon nie help om getref te word deur ‘n kleinerige beeldjie in iemand se tuin in Al Tayba nie:

Die ou deel van die dorp is meer as tweeduisend jaar oud

Die woestyn waar Jesus veertig dae en nagte deurgebring het

Grieks-Ortodokse kerk op die sogenaamde "Berg van Versoeking"

Pragtig binne-in die kerk op die nou spasie van die berghang

Die blik van bo, oor die Jordaanvallei - die versoeking

Heerlike granaatsap toe ons weer aan die voet van die berg is

Alicia en Isa by die heksagon venster van Hisham se paleis in Jerigo - met een van die grootste mosaïekvloere wat behoue gebly het. Jerigo is een van die oudste stede ter wêreld.

🙂

🙂

Aside

UNOCHA: toename in insidente in Wes-Oewer

United Nations Office for the
Coordination of Humanitarian Affairs (OCHA)
www.ochaopt.org

Ons as ekumeniese begeleiers moniteer en rapporteer mensregte-oortredings en verbrekings van die internasionale menseregtewet aan die Verenigde Nasies.  Die VN se kantoor vir die koordinering van mensesake of OCHA (soos dit kortweg bekend staan) analiseer dan die inligting om tendense te analiseer.

Daar was in Julie – September 2011 ‘n drastiese toename in insidente in die noorde van die Wes-Oewer  in vergelyking met dieselfde periode in 2010.  Die grootste aantal insidente was juis in die area waar ons, die Yanoun-span, werk.

Sommige van die dorpe suid van Nablus. Ons werk in Nablus en al die dorpe op die kaart, asook in ander wat nie op hierdie kaart is nie. Die Y van Yanoun is heel regs sigbaar. Die donkerbruin gemerkte dele is onwettige setlaarsdorpe wat verantwoordelik is vir die geweld. Die rooi gemerkte kruise is kontrolepunte, en Yitzhar en Beit Furik is twee setlaarsdorpe wat uiters aggressief is. By Huwwara eet 'n mens die lekkerste falafel op die aarde (volgens ons taxi-bestuurder, maar ons is geneig om met hom saam te stem). Die noordelike deel van die Jordaanvallei lê na regs, af van die kaart.

Al die insidente is veroorsaak deur Israeli’s – deur soldate en onwettige setlaars, en soms werk hierdie groepe saam met mekaar (die meeste setlaars is immers ook soldate). Ek werk tans aan ‘n artikel hieroor en plaas dit later.

Gallery

Foto’s uit Bethlehem

Voor die Muur: Alicia (SA), ek en Barbara (Switzerland) afgeneem deur Jan Egil (Noorweë)

Voor die kerk wat gebou is op die plek waar Jesus klaarblyklik gebore is. Die deur se hoogte is deur die eeue aangepas… die laaste maal sodat perderuiters nie die kerk kon binnestorm nie, en ‘n mens dink natuurlik ook aan die kameel en die naald se oog 🙂
Alicia en ek het die kerk besoek op een van ons verpligte afdae, en ons het ‘n gids gehad…  daarom ook foto’s wat hy ywerig geneem het nadat hy ons aangesê het hoe en waar ons moet sit vir die foto’s.  Nietemin….  dit was ‘n besonderse ervaring en ek hoop om op my eie daarheen terug te gaan as ek in Desember weer in Bethlehem is.

So lui die storie…. die geboorteplek van Christus

Binne-in die kerk

‘n Huis in Bethlehem se vlugtelingskamp